Pearson - Always Learning
 
Longman-HAT
English • Afrikaans
 

 

Letterkunde (Huistaal)

Die onderrig van "Om die aarde aan te haal"
uit Om die aarde aan te haal en ander gedigte,

saamgestel deur Carine Janse van Rensburg en Ronél Gouws
(Graad 11-bundel in die nuwe nasionale VOO-katalogus)

 

 

 VIR AFRIKAANSONDERWYSERS 

Onderwysers kan ook self aktiwiteite opstel
en hulle eie aktiwiteite op ons forum deel.
Let wel: U
 skool moet op
HAT Aanlyn 
ingeteken wees 

om die forum te kan gebruik. 

Hierdie blad bevat voorgestelde pre-leesaktiwiteite, aktiwiteite vir terwyl daar gelees word, en post-leesaktiwiteite bykomend tot die aktiwiteite wat in die poësiebundel ingesluit is.  

   

 

 

 Hulpbronne 

 

  • Die poësiebundel bevat inleidende aantekeninge oor poësie as genre.
  • In die reeks X-kit Presteer! is daar 'n Letterkunde-studiegids vir Om die aarde aan te haal en ander gedigte. 
  • Ander nuttige bronne vir die bestudering van poësie is verklarende woordeboeke soos die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT) en HAT Aanlyn, die WAT, ’n tesourus, asook ’n simboolwoordeboek soos Cirlot se A Dictionary of Symbols.
  • Die Wes-Kaap Onderwysdepartement het ʼn aanlyn katalogus waarin ʼn mens na hulpbronne in al hul opvoedkundebiblioteke kan soek. 
 Pre-leesaktiwiteite
  

Voordat u die gedig met die leerders lees, moet u aktiwiteite opstel wat hulle laat dink oor die lot van die aarde waarop ons woon. Voorbeelde hiervan kan die volgende insluit:




  • Hoe bedreig die bevolkingsontploffing die aarde?
  • Watter ander faktore bedreig die aarde en daarmee saam die voortbestaan van die mens?
  • Wat is die mens se verantwoordelikheid teenoor die aarde?
  • Het dit enige sin om jaarliks op 22 April Aardedag te vier? Moet elke dag nie Aardedag wees nie?

Indien daar tyd is, kan hierdie vrae in groepe beantwoord word.

 

  Aktiwiteite tydens lees
 

Dit belangrik dat ’n gedig só voorgelees word dat dit begrip bevorder. Dit beteken dat die onderwyser die gedig vooraf goed moet bestudeer sodat pouses, beklemtonings, enjambemente, die begin van ’n nuwe sin of frase, herhalings, ritme en rym duidelik in die voorlesing gehoor kan word. Om hierdie rede is dit nie verkieslik dat ’n gedig die eerste maal deur ’n leerder voorgelees word nie. 

 

Maak leerders daarop attent dat hulle tydens die voorlesing na die klanke in die gedig moet luister. ’n Gedig moet ook gehóór word. Laat die leerders ná die eerste voorlesing vertel wat die stemming in die gedig is en hoe, al dan nie, die gedig hul stemming beïnvloed het. Waardeur word die stemming in die gedig geskep? Is dit deur die houding van die spreker? Deur die lang of kort assonerende klanke? Die inhoud?

 

Met die volgende lees word aandag geskenk aan die taalgebruik en poëtiese maneuvers, die beeldspraak en stylfigure, woordbetekenisse en spesifieke woordkeuses. Hierdie lees behels ’n stiplees van die gedig en vra dat die onderwyser die leerders met behulp van stiplees-onderrigvrae tot begrip lei. Dit is ’n Sokratiese vraag-en-antwoord-sessie waardeur leerders die “waarheid” ontdek. Leerders moet aantekeninge maak terwyl hulle na die vraag-en-antwoord-bespreking luister en hulle moet self ook daaraan deelneem. Moedig hulle aan om ook teenvrae te stel. (Dit vergemaklik die bespreking as leerders die reëls van die gedig nommer.)

 

Moontlike stiplees-onderrigvrae vir “Om die aarde aan te haal”:

 





  1. Wat beteken dit om iemand “aan te haal”?
  2. Wanneer sou ’n mens iemand aanhaal? Gee ’n paar redes.
  3. Wie word in hierdie gedig “aangehaal”?
  4. ’n Mens moet iets sê voordat jy aangehaal kan word. Wat impliseer dit van die aarde?
  5. As die aarde dus kan praat, word die aarde vermenslik. Watter vorm van beeldspraak kom hier voor”?
  6. Wat sou die normale woordorde van die eerste reël wees?
  7. Wat is die effek daarvan dat die woordorde omgeruil word?
  8. Waarom, dink jy, gebruik die digter die woord “lieg” eerder as sy sinoniem “jok”?
  9. Waarna verwys “Dit” in reël 1?
  10. Watter simptome van die aarde se ongesteldheid word in reëls 2 en 3 genoem?
  11. Hoe weet jy die aarde word vroulik uitgebeeld?
  12. Dink jy dis gepas dat die aarde as ’n vrou uitgebeeld word? Waarom?
  13. Waarom, dink jy, verkies die digter om die woorde “selde” in reël 3 te gebruik, eerder as byvoorbeeld “weinig” of “min”?
  14. Dink jy die aarde het vroeër wel “samehangend “gepraat”? Waarom sê jy so?
  15. Wie, dink jy, is diegene wat tog uiteindelik “naderleun” om te probeer hoor wat die aarde sê?
  16. Waarom is dit “dalk te laat” vir diegene om nou te luister?
  17. Wat beteken dit om verleë te wees?
  18. Waarom of waaroor is hulle “verleë”?
  19. Waarom moet hulle “naderleun” om die aarde te hoor?
  20. Hoe praat iemand wat “brom”?
  21. Waarom sou die aarde “brom”?
  22. Wat suggereer die woord “raserny” oor die toestand van die aarde?
  23. Wat is die funksie van die enjambemente in reël 3 tot 6?
  24. Wat beteken “verg”?
  25. Waarom, dink jy, kies die digter “verg” bo een van die sinonieme wat jy genoem het?
  26. Wat is die eienskappe van ’n “fyn oor”?
  27. Waarom het diegene wat probeer hoor ’n “fyn oor” nodig?
  28. Wat is die eienskappe van ’n “fyner taal”?
  29. Waarom het diegene wat die aarde wil aanhaal ’n “fyner taal” nodig?
  30. Wat beteken dit om iemand “helder” aan te haal?
  31. Watter ander woord sou die digter in die plek van “helder” kon gebruik?
  32. Waarom, dink jy, is “helder” ’n beter keuse?
  33. Kyk na die tipografie van die gedig. Hoe kan jy sien dat dit ’n vrye vers is?
  34. Watter ander kenmerke van ’n vrye vers het die gedig?
  35. Dink jy die vryeversvorm is ’n gepaste vorm vir hierdie gedig? Waarom of waarom nie?
  36. Waardeur word hierdie gedig gebind?
  37. Watter klanke word in die gedig herhaal?
  38. Wat word die herhaling van dieselfde klinker of tweeklanke kort op mekaar genoem?
  39. Watter assonerende klanke kom in die gedig voor?
  40. Wat is die funksie van hierdie assonansie?

Indien die tyd toelaat, kan onderwysers hierdie vrae in hul groepe beantwoord of probeer om nog onderrigvrae by hierdie stel te voeg.

 

Die vrae moet verkieslik die gedig reël vir reël volg. Onderwysers moet reageer op die antwoorde wat leerders gee en hul daardeur laat lei. Pas die vrae aan volgens die antwoorde wat leerders gee. Laat u ook lei deur wat die leerders sê. Moenie hul spontane antwoorde ontmoedig deur aan te dring op ’n “regte” antwoord nie. Lei hulle eerder deur u vraagstelling na ’n “beter” antwoord.

 

  Post-leesaktiwiteite

 

Tydens post-lees kan die leerders die teks as ’n geheel beleef en daarop reageer deur vrae vanaf ’n lae tot ’n hoë orde daaroor te beantwoord. Hierdie vrae betrek vaardighede soos vergelyking, sintetisering, evaluering, maak van gevolgtrekkings, die reproduksie van die genre in ’n eie skryfstuk en kritiese taalbewustheid.

 

Enkele kontekstuele post-leesvrae

 


  1. Wat is die funksie van die allitererende s-klank in reël 2 en 3? (2)
  2. Die titel van die gedig, “Om die aarde aan te haal” is onvoltooid. Waarmee word hierdie gedagte in die gedig voltooi?   (2)
  3. Watter siektesimptome het die aarde?  (2)
  4. Waarom, dink jy, staan die laaste twee versreëls afsonderlik in ’n koeplet?  (2)
  5. Skryf drie woorde neer waardeur die aarde gepersonifieer word.  (3)
  6. Watter karaktereienskap, dink jy, word gesuggereer by diegene wat wel nog probeer hoor wat die aarde sê?  (1)
  7. Wat suggereer die woord “raserny” omtrent die toestand van die aarde”?  (2)
  8. Wat, dink jy, is die tema van hierdie gedig?  (1)   [15]

 

Voorbeeld van ʼn opstelvraag

Praat en luister staan sentraal in hierdie gedig van Ilse van Staden.

Bespreek hierdie stelling in ’n literêre opstel van 200 tot 250 woorde.  [10]

  

Die beantwoording van ’n opstelvraag

Leerders moet geleer word hoe om ʼn opstelvraag te beantwoord. Die volgende wenke is belangrik:

  • Lees die vraag aandagtig deur en maak seker dat jy presies weet wat gevra word. Dit sal help as jy die kernwoorde en ook die opdragwoord onderstreep, byvoorbeeld “bespreek”, “beskryf”, “vergelyk”, “verduidelik”, ensovoorts.
  • ’n Opstelvraag moet ʼn inleiding hê. Dit kan ’n herformulering van die vraag wees of ’n verwysing na die vraag, byvoorbeeld: Kommunikasie staan sentraal Ilse van Staden se gedig “Om die aarde aan te haal”: Die aarde praat en en enkeles probeer luister na wat sy sê.
  • Die volgende paragrawe moet die standpunt wat in die inleidende paragraaf gegee is, logies ontwikkel. Elke argument moet in ’n afsonderlike paragraaf weergegee word. Elke paragraaf behoort die volgende patroon te volg: ’n Stelling word gemaak, dan word dit uit die teks geïllustreer en uiteindelik word dit verduidelik. Die slotparagraaf bevat ’n kort samevatting.

 

Voorbeeld van ʼn verrykingsopdrag – reproduksie van genre in eie skryfwerk

Laat die leerders dink aan die omgewingskwessie wat hulle die naaste aan die hart lê – aardverwarming, suurreën, die waterkrisis, energietekorte, die verlies aan biodiversiteit en woude, verwoesting, besoedeling, verstedeliking ... Wat dink hulle is dit wat die aarde “brom” onder die aanslag van hierdie kwessies. Laat hulle hul verbeel dat hulle die aarde is en dan ’n gedig skryf waarin hulle die aarde aan die woord stel.

 

Integrering van taalonderrig

Die titel van hierdie gedig leen hom uitstekend tot die onderrig van die infinitief. Die infinitief is vir leerders moeilik. Verduidelik vir hulle dat die infinitief ’n vorm van die werkwoord is, maar dat dit nie ’n handeling aandui nie. Op sy eie kan die infinitief dus nie ʼn werkwoord wees nie. Dit kan gedeeltelik die funksie van ’n werkwoord vervul: Ons behoort die aarde te bewaar. Anders vervul dit die funksie van ’n naamwoord: Om die aarde te besoedel is gewetenloos. In hierdie sin is die werkwoord “is” en die infinitief, wat die naamwoord vorm, is “om te besoedel”. Wys vir die leerders daarop dat die infinitief in Afrikaans gewoonlik voorafgegaan word deur “te” of “om te”. Dit kan ook gesuggereer word soos in die sin “(Om te) Bewaar is die ‘in’-ding!”