Pearson - Always Learning
 
Longman-HAT
English • Afrikaans

  

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT)

 

  Wat is ’n huis sonder ’n HAT?

 

 

In Maart 1926 kom die destydse Nasionale Boekhandel en die Suid-Afrikaanse regering van die tyd ooreen om ’n eentalige, verklarende woordeboek van ongeveer die omvang van die destydse Nederlandse Van Dale (’n eendelige werk) daar te stel. Dr. J.J. Smith, professor in Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch, word as redakteur aangewys en onderneem om binne drie jaar dié taak te voltooi. 

  

Gou blyk dit egter dat drie jaar vir die afhandeling van só ’n reuse-taak gans te min is. Toe dit blyk die woordeboek sal onmoontlik betyds voltooi word, neem die Universiteit van Stellenbosch Nasionale Boekhandel se deel van die kontrak oor en stel ’n ewe onrealistiese teiken om die woordeboek binne vyf jaar die lig te laat sien. Weer gebeur dit nie.

 

Eers ná ongeveer twintig jaar se werk aan die woordeboek lê prof. Smith die tuig neer. In 1947 word hy as hoofredakteur opgevolg deur dr. P.C. Schoonees, ’n skoolhoof van Vryheid. Die doel om ’n handwoordeboek saam te stel, word laat vaar, en in die plek daarvan die visier gestel op ’n omvattende bron wat, soos die The Oxford English Dictionary vir Engels en die Woordenboek der Nederlandsche Taal vir Nederlands, die “volledige” Afrikaanse woordeskat moet opteken en verklaar.

 

Onder Schoonees se leiding verskyn die eerste deel van die nuwe Woordeboek van die Afrikaans Taal (die WAT) (A–C) in 1951, die tweede deel (D–F) in 1955 en die derde deel (G) in 1957. Teen dié tyd is dit duidelik dat die woordeboek vorder, maar dat dit etlike dekades sal duur om dit tot by z te voltooi.

 

HAT1

Die uiteinde is dat in die jare vyftig opnuut besluit word om, gelyklopend met die omvattende werk, ook ’n "hand-" of "standaardwoordeboek", ’n Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT), aan te pak.

 

Schoonees aanvaar die uitdaging om in sy eie tyd ook dié taak te onderneem. Maar ten spyte van sy geesdrif is dit nogmaals duidelik: Om binne ’n kort tyd van nuuts af ’n handwoordeboek saam te stel, is vir een mens ’n baie moeilike, selfs onmoontlike taak! Met die hulp van C.J. Swanepoel, ’n redaksielid van die WAT, vorder die werk ’n raps vinniger; dr. S.J. du Toit, nog ’n lid van die WAT se redaksie, word as derde redakteur bygebring; en nog later ’n Afrikaansonderwyser, C. Murray Booysen.

 

In 1965, veertig jaar nadat die eerste saadjie geplant is, verskyn die eerste uitgawe van die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT) onder dié viermanskap se name.

 

Die uitgewer van HAT1 is Voortrekkerpers, wat enkele jare later met die Afrikaanse Pers Boekhandel verenig om Perskor te vorm. By Perskor sien die tweede en derde uitgawe van die HAT die lig. HAT4 (steeds onder die druknaam Perskor) en HAT5 word uitgegee deur Pearson Education Suid-Afrika, ’n afdeling van Maskew Miller Longman, waarby Perskor in die laat 1990’s ingelyf word.

 

HAT2

In 1971 vra Perskor Francois F. Odendal, professor in Afrikaanse en Nederlandse taalkunde aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie, om die redakteurskap van die HAT oor te neem. Odendal aanvaar die uitdaging en van 1972 tot 1979, agt jaar lank, bewerk hy die woordeboek grondig.

 

Vir die tweede uitgawe, wat in 1979 by Perskor verskyn, brei Odendal die woordeboek met ongeveer 50% uit en stel ’n werklik hersiene uitgawe daar. Naas byvoegings word definisies gewysig, argaïese woorde en betekenisse geskrap, veral ook woorde en betekenisse wat eerder Nederlands as Afrikaans is. Nog ’n aspek wat spesiale aandag kry, is die uitbreiding en verbetering van voorbeeldsinne, aangesien woorde binne sinsverband hul betekenis duideliker laat blyk as ’n blote definisie.

 

Dit is gou duidelik dat die HAT die mark verower het en deur Afrikaansgebruikers as gesaghebbend aanvaar word. In die tagtigerjare neem die HAT sy plek in huise, skole en universiteite, asook in regeringskantore en by sakelui in. Van besondere belang is dat die HAT by die bepaling van die betekenis van ’n woord in hoër en laer howe as outoriteit aanvaar word. Ook dat koerante en briefskrywers aan koerante, waar dit oor die betekenis van ’n woord gaan, gereeld die HAT as gesaghebbende bron aanhaal.

 

HAT het ’n huishoudelike naam geword. 

HAT3  

HAT3 verskyn in 1993 en word selfs nog gunstiger as HAT2 ontvang. In die laat jare negentig verskyn daar van HAT3 ook ’n elektroniese uitgawe – die eerste Afrikaanse woordeboek op CD-ROM.

 

Die omvang van die woordeboek word met ’n verdere 30% vergroot. Nog argaïese woorde word geskrap, en in die besonder word aandag gegee aan etikette (wat daarop neerkom dat 'n woord sonder etiket as Standaardafrikaans beskou word). Gebruiksvoorbeelde word vermeerder en aangevul met sitate uit werke van Afrikaanse skrywers. Hierdeur word erkenning gegee aan die hoë gehalte van die Afrikaanse letterkunde en die belangrike bydrae van Afrikaanse skrywers tot die uitbouing van Afrikaans. Soos in die vorige uitgawes kry vaste uitdrukkings en spreekwoorde ook besondere aandag.

 

HAT3 is die eerste Afrikaanse woordeboek waarin die samesteller ’n behoorlike uiteensetting probeer gee van die werkwyse wat gevolg is en die teoretiese beginsels waarop dit berus.

 

HAT4  

Om te verseker dat die HAT in bekwame hande bly, stel Perskor ná die verskyning van die derde uitgawe ’n tweede redakteur aan, Rufus H. Gouws, professor in Afrikaanse taalkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, wie se status as teoretiese en praktiese leksikograaf hom ’n onbetwiste leier as woordeboekkundige maak.

 

Die toegelate tyd maak ’n indringende hersiening van HAT3 onmoontlik, derhalwe verdeel die twee redakteurs vir HAT4 die alfabet in gelyke dele tussen hulle: Odendal bewerk die eerste en Gouws die tweede deel. Argaïsmes word geskrap; talle nuwe woorde, onder meer rekenaarterme, en nog meer aanhalings word bygevoeg; en etikette word verfyn. ’n Diagram wat die uiteensetting van artikels illustreer, kom by as deel van die voorwerk. 

    HAT4 verskyn in 2000 by Pearson Education Suid-Afrika.

  

HAT5  

Vir HAT5 neem die redakteurs opnuut elk ’n helfte van die woordeboek: Gouws die eerste deel en Odendal die tweede deel. Van die aspekte wat aandag kry, is uitbreiding van die etimologieë, ’n verbeterde artikeluitleg, uitbreiding en verskuiwing van die afkortings na ’n spesiale afdeling agter in die boek, byvoeging van ’n afdeling geografiese name met hulle afleidings, verdere verfyning van etikette, ’n voorteks met gebruiksleiding en voortgesette aandag aan geskikte aanhalings. Verder word nog “vreemde” maar gebruiklike woorde opgeneem en ook woorde uit ander variëteite as Standaardafrikaans.

 

HAT5 is ook die eerste uitgawe waarvan die woordkeuse gegrond is op ’n verteenwoordigende elektroniese korpus.

 

By die bekendstelling van HAT5, op 14 September 2005 op die Spier-landgoed buite Stellenbosch, wat ook saamval met die veertigste viering van die eerste verskyning van die HAT in 1965, word Odendal vir sy meer as 30 jaar lange verbintenis en toewyding aan die woordeboek gehuldig en word daar van hom afskeid geneem.

    Gouws bly aan om aan die sesde uitgawe mee te werk.

 

HAT6

In Oktober 2007 word Jana Luther, onder meer voormalige senior redakteur van die Pharos Afrikaans-Engels-Engels-Afrikaanse Woordeboek en mederedakteur van die Pharos Afrikaans-Engels-Engels-Afrikaanse Kernwoordeboek, deur Pearson as uitgewer en eerste interne HAT-redakteur in die plek van Odendal aangestel.

 

In Maart 2009 word saam met die derde druk van HAT5 ’n CD-ROM – e-HAT 2009 – bekend gestel. Dié elektroniese woordeboek bevat die volledige alfabetiese lys, afkortingslys en lys geografiese name met afleidings van die vyfde uitgawe van die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (vanaf dié derde druk met nuwe omslag word die titel tot Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal verkort).

 

In Augustus 2012 stel Pearson vir Fred Pheiffer as die tweede interne redakteur van die HAT aan. Hy was voorheen mederedakteur van die Pharos Afrikaans-Engels-Engels-Afrikaanse Woordeboek en hoofredakteur van die Pharos Afrikaans-Engels-Engels-Afrikaanse Kernwoordeboek. Die afgelope paar jaar werk hy as projekbestuurder aan die Oxford Bilingual School Dictionary: isiZulu and English en as mederedakteur aan die Oxford South African School Dictionary en die Oxford Afrikaanse Skoolwoordeboek.

 

Die nuwe, sesde, verbeterde en omvattend hersiene uitgawe van die HAT as spieël van eietydse Afrikaans het in Julie 2015 by Pearson verskyn.